Gebed en geld
Hier volg die gebed wat ek tydens my stryd gebid het:
My Gees soek U en my gedagtes dwaal gedurig op U, maar my vlees soek die wêreld en al sy plesiere. Die swart wolf in my weier om te sterf, sy begeerte om gevoed te word is te sterk. Ek kan nie meer so aangaan nie; my een voet in U koninkryk en my ander voet in die wêreld. Daagliks verniel ek myself aan windjaag en saans soek ek vertroosting by U. Ek het nie vrede nie, selfs al is ek in my huis, in my bed, vrees ek steeds.
Ek vrees alles Here, ek het nie rus nie. My geestelike lewe heers nie. Ek is nie stabiel nie. Ek het ’n begeerte om U waarlik te dien en vir U te leef, maar iets keer my Here. Die begeerte om my eie lewe te beheer en regeer, die trots in my hart, die soeke na aansien by mense, hebsug na materiële dinge, liefde vir geld, pogings om mense te beïndruk, ongesonde soeke na status, energievermorsing op nietighede, en die gejaag na wind is te waardevol vir my Here, dit alles keer my. Ek sukkel om my lewe neer te lê, want ek ag hierdie stof te belangrik. Die sigbare is te sterk. My visie vir die onsigbare, ewige, eintlik enigste waardevolle besitting is versteurd. Ek is verblind deur materialisme, trots, hoogmoed, ambisie, en onafhanklikheid. Ek het vir myself gelieg en gesê dis dryfkrag.
Kaal het ek hier ingekom en kaal gaan ek hieruit. Here, ek kan net eenvoudig nie so aanhou nie. Ek moet op U vertrou, ek moet my lewe neerlê. U sê wie sy lewe neerlê, hy sal juis die ware lewe ontvang. Die gevaar om nie my lewe neer te lê nie, is gevaarliker as die gevaar om dit wel neer te lê. Ek moet net eenvoudig vertrou op die onsigbare Losser. Daar is ’n beter weg. Ek kan neerlê en U sal my nie verlaat nie. U stuur mense op my pad wat al hierdeur was, wat die waarheid ken en wat my aanmoedig.
Gee my die krag om alles te los wat ek ken, om op te offer dit wat ek nie werklik nodig het nie, al beteken dit ek gaan al my besittings verloor. U is mos my Herder, ek sal mos niks kortkom nie? Vir te lank hang ek aan die wêreld se tou met die hoop dat ek eers ’n houvas op U tou kan kry voor ek die wêreld se tou los. My hand kan net eenvoudig nie die bekende en sigbare los nie. U sê: ‘Nee, jy kan nie aan beide vashou nie, kies een.’ U sê: ‘… My juk is sag en My las is lig.’2 U wil hê ek moet aflê en neerlê, U wil hê ek moet U juk dra, waarlik Here, U las is werklik draaglik en baie ligter as die wêreld s’n. Skenk my die krag om neer te lê Here.
Amen.
Wilco Naumann