Woestyn en geld
In die een asem het ek God gesmeek vir materiële seëninge, maar in die ander asem het ek my drome voor die Here neergelê en Sy wil gesoek. Ek sou dit nie toe erken het nie, maar dit is baie duidelik dat ek God en Mammon tegelyk wou dien. Nie net het ek albei probeer dien nie, ek het tot God gebid om dit asseblief moontlik te maak vir my, en die vermetelheid gehad om Hom te vra om dit spoedig te laat gebeur!
Is die mens nie soms belaglik nie? Die stryd vir die eerste plek in my hart was duidelik sigbaar. Die wêreld en sy dinge lyk te mooi en is te aantreklik, so ek probeer daaraan vasklou en terselfdertyd God daardeur dien. Amper soos ’n bruid wat met haar man wil trou, maar sy wil nog drie keer ’n week saam ’n ander man uithang.
Hierdie veroorsaak selfsugtige gebede. Nee, manipulerende gebede! Ek het gedink as ek hard genoeg daarvoor bid, gaan die Here Sy karakter verander om by my perverse planne in te pas. Mammon was so in beheer dat ek gedink het ek kan God se ‘arm draai’. Hoe belaglik!
In retrospek dink ek God het maar net Sy kop geskud en gewag tot ek wakker skrik. Ek is dankbaar dat die Here nie die goed – wat ek so bitter graag moes hê en waarvoor ek aanhoudend gevra het – vir my gegee het nie, want dit sou my ruïneer. Ek was vas oortuig dat my geluk in materiële dinge lê. Die stryd vir my hart was eg, my begeerte na God én na aardse skatte was so inmekaar verweef dat ek dit nie kon sien nie.
Ek het myself oortuig dat dit is wat ek werklik nodig gehad het. Ek het hebsug gemotiveer met Bybelverse en myself oortuig dat die eer na die Here toe sal gaan as ek sou kry wat ek begeer het. My gedagtes en begeertes was deurmekaar en aanmekaar. Die onkruid en die blomme was so na aan mekaar gegroei en vasgeweef dat die enigste manier om dit los te kry, sou wees om alles met wortel en al uit die grond te ruk en oor te plant.
Die goud en ander materiale was so saamgepers dat die enigste manier om die goud en die skuim te skei, sou wees om dit deur die vuuroond te sit. Min het ek geweet wat ses jaar later sou gebeur. Die oond is aangesit om solank die raffineerder se vuur warm te maak. Die deurmekaar seun gaan deur die vuur gelouter word om die goud en die skuim te skei. Die vuur om Mammon weg te brand.
Ek kan die Here dank vir die vuur – toetse en moeilike tye – in my lewe, dat Hy die moeite doen om al die wêreld se vuil uit my te brand. Ek kan die Here dank dat Hy my nie oorlaat aan myself nie. ’n Ander naam vir dié vuur is die woestyn. Dit is waar God Sy seuns en dogters heen vat om hulle van Mammon te skei. Die woestyn is rof, maar tydelik.
Indien jy voel jy is in die vuur of jy gaan deur die woestyn, moenie moedeloos word nie. Die Here is dalk net besig om jou suiwer te maak vir jou roeping. Hy is heel moontlik besig met jou – soos met my – om die koring van die kaf te skei. Byt vas, binnekort sien jy die beloofde land. Die losskeur proses van Mammon is nie lekker óf maklik nie, maar dit is die moeite werd, en dit is bevrydend.
Wilco Naumann