God & Geld
Hierdie is ‘n ‘waarom moet ek my geld reg bestee?’ asook ‘n ‘hoe doen ek dit?’ boek. Ek skryf hierdie boek oor vier redes, en die hoofstukke is in hierdie vier gedeeltes onderverdeel. Die doel van die boek is finansiële gesondheid; hoe om met geld te werk, asook hoe om die regte verhouding teenoor geld en besittings te verkry.
Die eerste stap om dit te bereik is om beheer te neem oor jou inkomstes en uitgawes. Dit word bereik deur middel van ‘n begroting, maar selfs meer belangrik; ‘n alternatiewe finansiële filosofie. Alles wat jy nodig het om jou finansies gesond te kry – en in lyn te bring met God se Woord – word in die vier gedeeltes van hierdie boek saamgevat.

Eerstens vertel ek jou my storie van hoe ek uit armoede gekom het tot by ‘n plek waar ek genoeg gehad het. Genoeg om baie foute te maak en baie skuld aan te gaan. Maar ook genoeg om te leer hoe om suksesvol daarmee te werk. Ons kyk na wat geld is, die goeie en die slegte daarvan, asook hoe God dit sien in teenstelling met die wêreld. Daarna lê ek ‘n Bybelse fondasie van geld neer. Aspekte soos die geskiedenis van geld, watter rol geld in die Bybel gespeel het, die eienskappe en gevare van geld, asook die uiteenlopende verskil tussen die wêreld (wat ons insluit) en God se perspektief ten opsigte van geld, word bespreek. Die eerste gedeelte kan opgesom word as die fondasie van geld. Ek poog om hierdie vraag te beantwoord: Hoe herstel ek my siening ten opsigte van geld?
Tweedens deel ek my persoonlike filosofie met jou. Ek sien en weet van baie mense wat met ‘n verwarde ingesteldheid ten opsigte van geld en besittings leef. Baie het ‘n armoedige denkwyse, terwyl ander onbewus is van die geestelike geldelike beginsels en implikasies. Baie min mense het ‘n gesonde filosofie rondom geld en besittings. In hierdie tweede gedeelte praat ek oor my persoonlike saamgestelde filosofie ten opsigte van geld, armoede, denke, rentmeesterskap, identiteit, integriteit, boekhouding en belasting. Die vraag hier is: Hoe verander ek my denke rondom finansies sodat ek ‘n gesonde uitkyk daaroor kan hê?
Derdens gee ek praktiese stappe en riglyne oor hoe om met geld te werk. Ek het bewus geword daarvan dat baie min mense weet hoe om fisies met geld te werk. Die oorgrote meerderheid wat ek ken het goeie skoolopleiding, maar is nêrens in hul lewe geleer hoe om hul inkomstes te hanteer nie. Van kleins af word ons geleer van die verskeie maniere hoe om meer geld te maak, maar ons leer nie noodwendig hoe om dít wat ons verdien, reg te bestuur nie. Alles gaan oor hoe om meer geld te in, maar baie min gaan oor hoe om dít wat jy het, reg te bestee. As gevolg hiervan verval talle in skuld en soos prof. dr. Marius Nel dit stel, “ongesonde verbruikerspatrone wat tot baie verskillende probleme lei”.
Steeds in die derde afdeling bespreek ek die finansiële plan en sluit die volgende onderwerpe in; doelwitte, dissipline en begroting. Hier kyk ons na die belangrikheid, implementering asook praktiese riglyne en metodes van ‘n begroting; hoe om meer effektief te wees met dít wat jy reeds het. Tiendes, beleggings, spaargeld, aftrede en nalatenskap is onderwerpe wat deel hiervan uitmaak. As jy mooi met jou geld werk en my voorgestelde plan volg, sal jy ‘n buffer bou teen die onbeplande gebeurtenisse van die lewe. As jy jou inkomste verloor of die bodem van jou emmer val uit, is daar steeds hoop.
Hoewel hierdie boek hoofsaaklik handel oor hoe om dít wat jy reeds het, reg te bestuur en aan te wend – en nie oor hoe om meer geld te maak nie – het ek tog een of twee gedagtes wat ek oor inkomstevermeerdering gaan deel. Om jou uitgawes te verminder, is kern. Aan die einde van die dag is dit maklik om finansieel gesond te word as jy geen paaiemente het wat jy moet betaal nie. Hier kyk ons ook na materialisme, skuld, spandering, uitleen, en vergenoegdheid. In dié gedeelte antwoord ek jou vraag: Hoe kry ek beheer oor my finansies, en hoe bestuur ek dit reg, soos die Here van my verwag?
In die laaste gedeelte wys ek jou hoe om Mammon se mag te breek. In Johannes 17:16 is geskrywe dat ons as Christene leef in hierdie wêreld, maar ons is nie van die wêreld nie. Terwyl ons in hierdie sisteem leef, het ons ‘n ander alternatief ten opsigte van hoe ons met geld kan werk. Zig Ziglar het gesê, “Money isn’t everything, but it ranks right up there with oxygen.” Ongelukkig was hy reg. Terwyl ons op aarde is, gaan ons met geld en besittings te doen hê. Deur my persoonlike storie te deel, sal jy sien hoe dit moontlik is om weg te breek uit ‘n armoedige ingesteldheid en denkwyse, jy sal sien (en hopelik leer) hoe om as ‘n Christen in hierdie samelewing met geld te werk op ‘n Bybelse manier, en bewus raak dat Mammon meeding vir jou lewe. My gebed is dat jy sal ontsnap van sy slawerny as jy reeds ‘n gevangene is.