Eienskappe van geld
Geld word hoofsaaklik – volgens die moderne ekonomiese teorie – vir drie dinge gebruik. Eerstens as ‘n ruileenheid – koop en verkoop word uitbalanseer deur die netto vloei van geld nul te kry. Tweedens as ‘n rekeneenheid – die eenheid waarin waardes verreken word. Byvoorbeeld as ‘n motor wat R 100 000 werd is verkoop word, en R 50 000 is al afbetaal, word daar nog R 50 000 geskuld. Derdens as ‘n waardehouer – ek verkoop my huis, hou die geld ‘n halfjaar in die bank en koop dan ‘n nuwe huis.
Die probleem is egter, geld is ook ‘n gees. Daar is verskeie eienskappe waarvan ons bewus sal moet wees indien ons met geld wil wen. In my boek God & Geld bespreek ek al agt-en-twintig van hierdie eienskappe, maar hierdie blog wil ek net so paar uitlig.
Geld is kompeterend – Geld en besittings kompeteer met die Here. Volgens Dr. Marius Nel is besittings die belangrikste mededinger vir Christus se heerskappy in ons lewens. Daar staan geskrywe dat niemand vir twee base tegelyk kan werk nie, want “hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” (Matteus 6:24b NAV) Jy kan nie God en geld ter selfde tyd dien nie, jy moet kies watter een van die twee meesters jy gaan gehoorsaam. Geld is in aanhoudende kompetisie vir die eerste plek in jou lewe.
Geld is ‘n toets – David McConaughty het in 1918 geskryf, “Our Lord takes money, the thing that, essential though it is to our common life, sometimes seems so sordid, and He makes it a touchstone to test the lives of people and an instrument for moulding them into the likeness of Himself.” Geld word gebruik om ons harte en ons intensies te toets. Ons moet wonder of die Here nie ook die afwesigheid van geld gebruik om ons ware karakters na vore te bring nie. Geld kom en gaan, die Here stuur soms meer geld op ons pad – of vat bietjie weg soos in Job se geval – om te kyk hoe ons sal reageer, en wat met ons harte gebeur deur só ‘n toets. Is ons betroubaar, is ons gehoorsaam, verander dit ons? Hy gebruik ook geld om ons te vorm na Sy gelykenis. Geld is ‘n toets, dit sal nie net vir jou wys wat in jou steek nie, maar ook in iemand anders. As ek iemand se karakter wil toets leen ek vir hom geld, of ek doen besigheid met hom, dan sien ek vinnig met wie ek deel. Geld bring vinnig ‘n ware karakter na vore.
Geld is nie ‘n probleem oplosser nie – As jy dink geld gaan jou probleem oplos is jou probleem groter as net die tekort aan geld. Kiyosaki sê weer, “Money does not solve problems; intelligence does.” Te min geld is nie die oorsaak van jou probleem nie, te min geld dui net daarop dat daar ‘n finansiële intelligensie en/of wysheid te kort is.
Geld is belangrik – David McConaughty skryf, “Money, most common of temporal things, involves uncommon and eternal consequences. Even though it may be done quite unconsciously, money moulds people – in the process of getting it, of saving it, of using it, of giving it, of accounting for it. Depending upon how it is handled, it proves a blessing or a curse to its possessor; either the person becomes master of the money, or the money becomes master of the person.” Nie net is geld belangrik vir die voor die hand liggende alle daagse redes nie, maar ook in terme van hoe dit jou verander, hetsy goed of sleg. Geld affekteer jou verhouding met God, jou huidige lewe, jou toekoms, asook jou tyd aan verkryging en besteding daarvan. Geld is belangrik, want hoe jy daarmee werk, bepaal grootliks hoe jou karakter gaan vorm.
Geld is daar om te geniet – God wil jou seën, die geheim is om Hom eerste te plaas. Geld kan genot bied – die Here het dit vir ons gegee om dinge te doen wat ons geniet. Solank as wat geld in balans gehou word kan dit satisfaksie verskaf. Dit bring ook geleenthede waar jy goed kan doen, terselfdertyd kan dit jou in versoeking bring, deur byvoorbeeld belasting te ontduik. Dit is nie ‘n sonde om geld te geniet nie, stel God eerste, wees verantwoordelikheid daarmee, en behou ‘n gesonde balans.
Geld is ‘n groot verantwoordelikheid – “Die losprys vir die lewe van ‘n man is sy rykdom, maar die arme hoor geen dreigement nie.” (Spreuke 13:8) Rykdom kom met sy eie stel drama. Geld bring nie net nuwe verantwoordelikheid voort nie, maar ook nuwe gevare, probleme, keuses, risiko’s, en somtyds ‘n posisie van mag. Die verantwoordelikheid van geld moet nooit onderskat word nie.
Geld is ‘n gewillige werker – Asook gretig om te vermeerder wanneer die geleentheid homself bied, redeneer George S. Clason. Elke rand wat jy besit is een van jou slawe, so laat hulle hard werk vir jou. Indien jy kan leer hoe om geld vir jou te laat werk sal geld jou dien, hy sal hard werk en selfs sy kinders se kinders sal vir jou werk, sê Clason verder. Jou geld moet harder werk as jy, volgens Dave Ramsey. Dit is moontlik, maar eerstens moet geld sy regte plek in jou lewe in neem. Onthou, jy kan nie die slaaf én die meester ter selfde tyd wees nie. Jy moet een posisie kies. Ek herhaal weer, as jy skuld het is jy sy slaaf. Wat vir nou belangrik is, is om te weet dat geld ‘n gewillige werker is. Geld word nie moeg nie, dit is soos Dave Ramsey sê, geld raak nie siek, swanger of gestremd nie. In my eie lewe het ek beleef hoe gewillige werker geld werklik is. Maak nie saak of ek met vakansie is, of ek slaap, en of ek oorsee is nie, waar ookal ek myself bevind is my slafies hard besig om vir my te werk. Sodra jou posisie met geld herstel is, sal jy sien hoe goeie werker hy is.
Blessings
Wilco.