Lucky is gelukkig
Soos my ou gewoonte stap ek 16h00 die middag kombuis toe en maak vir my ‘n koppie rooibos tee met heuning, en dis waar ek toe vandag hierdie mens raakloop. Hy hou met beide hande, beide gebroke hande die ou yogurt plastiek bakkie vas.
Ek vra vir hom: “Lucky, hoekom drink jy koffie uit daai plastiek bakkie uit, hoekom gebruik jy nie ‘n gewone koppie nie?” Hy sê: “Nee baas, ek wil hom nie die koppie van jou vuil maak nie.” “Ai ou Lucky, hoeveel keer moet ek vir jou sê my naam is nie baas nie, my naam is Wilco? En die koppies is vir ons almal.”
Hy smile maar net vir my. Ek smile terug Here, maar binne my bors pyn my hart. Hierdie mens ken vernedering. Hierdie mens ken swaarkry. Ek ken armoede, U weet, maar by hierdie man kan ek ‘n paar lesse leer. Daai vingers is krom gewerk Here, ek kan sien hulle ken van hard werk, hulle ken van swaarkry, hulle ken van hartseer, en tekorte. Is dit nie ironies nie Here, sy naam is Lucky? Hy is als behalwe, hoe help ek hom?
Waardeur moes hy in sy lewe gaan om so minderwaardig te wees dat hy nie eers werd genoeg voel om my koppies te gebruik nie? Watse swaarkry moes die man nie al beleef nie Here? Watse pyn het hy al deurgegaan?
Ek besef rykdom is relatief Here. As ek na ander kyk voel ek arm, maar as ek na Lucky kyk weet ek ek is skat ryk. Ek is ryk of arm afhangende van watter angle af jy kyk. Maar hoe help ek hom? As ek hom R100 gee gaan dit meer vir my beteken as vir hom. Ek gaan trots voel op myself, ek kry arm mense jammer en help, ek kan nou in vrede aangaan met my lewe, maar wat doen dit vir hom Here?
Hy kan nou weer eet vir een aand ja, maar dit verander nie sy lewe nie, dit verander nie sy toekoms nie, dit verander nie sy lot nie. U plaas liefde in ons harte vir mense, skenk ons ook asb die wysheid en vermoë om hulle te help uit daai gat uit Here, om nie net kos te gee vir een aand nie, maar om verandering te bring waar generasies na Lucky die vrugte sal eet.
Die vrugte van Goddelike ingryping, Goddelike verandering. Help my Here, om mense soos Lucky te help. Wil U nie maar ‘n groepering van mans en vrouens, soldate van U oprig om hierdie probleem aan te spreek nie? Ek bid vir wysheid Here, ek bid vir hulp, ek bid vir broers en susters wat nie sal toelaat dat mense soos Lucky onveranderd sal bly nie.
Maar bowen als Here, bid ek vanaand vir Lucky, die man met die gebroke deurgewerkde hande, ek bid vir hom en mense soos hy, dat U met hulle sal wees Here, dat U mense op hulle pad sal sit wat hulle sal ontferm soos ‘n ma oor haar eie kinders. Dink aan Lucky vanaand Here, dink asb aan hom.
Amen.
Wilco Naumann