Westerse samelewing
Die Westerse manier van leef is nie goed vir ons nie. Besittings, aansien, voorkoms, beïndruk, getroud met ritmes – haastige vinnige verkeerde ritmes. Plastiekkaarte, plastiekvriende, plastiekmense, plastiekafgode, oppervlakkige verhoudings, min sinvolheid, vlak karakters, blink voertuie, blink gesigte, klipharde harte, gekoopte geluk, geen ware vreugde – elke gorilla vir homself.
Alles is vinnig en kits; kitsbanke, kitslenings, kitskos, selfs kitsvrouens. ’n Kitslewe met meer tegnologie maar minder tyd, meer bakleiery en minder vrede, meer vrees, angs, en volop materialisme. Oppervlakkige gebede, groot godsdiens maar klein goddelike verhoudings met Hom. Vinnige gebede en vinnige humeure. Groot huise, klein harte, groot ego’s, klein geloof, groot spiere, klein integriteit – elke gorilla vir homself.
Omdat alles kits is, verwag ons God moet ook ’n vinnige antwoord en oplossing gee. Hy lag. Haastige voete, bedrieglike tonge, vuil hande, bebloede gewetens, geldgierige harte, valse lippe, dowwe oë, toe ore, verdraaide denke – elke gorilla vir homself.
Ons sien maar ons sien nie, ons hoor maar ons hoor nie, ons weet maar ons weet verkeerd, ons het volop kennis maar ’n tekort aan wysheid. Ons bid, maar wil eintlik nie hoor nie, want ons weet ons gaan nie hou van wat Hy sê nie. Ons vra, maar ons soek ons eie antwoorde. Sy planne beteken ongerief en ongemaklikheid vir my – uit my gemaksone. Ons wil nie eintlik iets van Sy planne hoor nie, Hy moet net ons planne seën. Sy standaarde maak my ongemaklik, want dit is in teenstelling met die res van die wêreld.
Sy wil kan tog nie reg wees nie? Dit lyk dan so anders as waarmee ons grootgeword het. Draai die ander wang? Loop nog ’n myl? As hy jou bo-kleed vat, gee hom jou onderkleed ook? Wraak kom my nie toe nie? As jy haat is jy ’n moordenaar? My hardverdiende geld weggee? Onvergenoegdheid is gierigheid? Gierigheid is afgodery? Dit kan mos nie reg wees nie?
Ons moet van buite mooi lyk, ons moet die ander mense beïndruk met wat ons ry en waar ons bly, die prys van my voertuig bepaal hoe geseënd ek is, die grootte van my horlosie en die buurt van my huis bepaal hoe belangrik ek is, natuurlik belangriker as ander. My hele lewe gaan oor beïndruk, ander moet kan sien, en weet God seën my. Hulle moet kan sien hoe baie geld ek het, want baie geld is mos gelykstaande aan sukses. Hoe meer geld hoe meer geseënd, of hoe?
Nie net is ek deel van die sisteem nie, ek beoog om hom te bemeester. Ek het mos pille. Pille wat my aan die slaap kry en pille wat my wakker maak. Pille wat my opgewonde maak, en pille wat my kalmeer. Ek het mos goeie inkomste en ek sit mos Sondag my kerkgesig aan en steek my godsdienstige hand op.
Ons weier om te vergeef, ons leer eerder om daarmee saam te leef. Ons het mos lief, net dié wat ons liefhet, ons is mos vriendelike mense, met dié wat eerste vriendelik is met ons! Ons het mos vriende op Facebook, hulle weet wat in ons lewens aangaan, hulle kan mos sien waar ek die naweek was en wat ek geëet het. Hulle kan my foto’s sien en wat in my lewe aangaan. Ons hoef nie meer brood te breek in mekaar se huise nie, ons verkeer mos op sosiale netwerke. Ons verruil die eg vir die plastiek, die vlees vir die skerm. Ons is sulke mooi grafte – leë, oppervlakkige, witgeverfde, van-buite-af-mooi, vlak grafte!
Here, vergewe asseblief ons generasie. Gee ons die krag om ons drome aan U oor te laat. Skenk ons ook die krag om ten volle op U te vertrou, nie net vir die daaglikse nie, maar ook vir die toekoms. Dit is net in U wat ons ’n veilige toekoms het. Vergewe asseblief ons onvergenoegdheid en ondankbaarheid. Ons het die wêreld se weë te lief.
Amen
Wilco Naumann