8 Dinge wat jou doodmaak
My liefste broer in Christus, hier is 8 dinge wat jou doodmaak sonder dat jy dit besef:
1.) Geld
Of jy dit wil erken of nie, en of jy dit wil raaksien of nie, daar is ‘n gees agter geld. En die gees se doel is om jou te beroof van die ware lewe. Hoe doen hy dit? Hy hou jou gedagtes besig met blink planne en goue schemes, soveel so dat jy van vroeg oggend tot laat aand besig is met geld maak, dat jy nie tyd of krag het om saam God te spandeer nie. Die belangrikste ding wat jy nodig het is jou verbond met God, maar subtiel word jou aandag en fokus geskuif na die lokval van ‘n “beter lewe vir my gesin”, so jy regverdig die gejaag na wind en voor jy jou oë uitvee sit jy met ‘n skuur vol muntstukke, jy’t so ver afgedwaal jy weet nie waar is God nie, dit terwyl ‘n ander man jou kinders grootmaak en vir jou vrou blomme koop vir haar verjaarsdag. Lees gerus Lukas 12:13-21. Geld wil jou smoor.
2.) Pornografie
Die voor die hand liggende gevaar is dat dit jou gevoelens smoor, jy begin vrouens sien as objekte eerder as God se dogters. Die minder obvious gevaar is dat dit jou brein fisies siek maak. Jy maak skade aan jouself. Jy ruil jou mooi toekoms in vir vuil tydelike plesier. Dis nie wysheid nie my broer, jy maak skade aan jouself. Jy sondig teen jou eie liggaam. En dan die hartseerste is, jy breek jou intimiteit met die Here. God is al wat jy het op aarde, die res (mens en besitting) gaan vergaan, Hy is die enigste rotsvaste onveranderlike, en pornografie vernietig jou verbond met God. My voorstel is, as jy vasgevang is in dit, soek hulp. Dis nie ‘n skande om hulp te vra nie. Reik uit – vra God om iemand vir jou te wys met wie jy daaroor kan praat – en bring jou sondes in die lig. Sodra jy dit in die lig bring (bely), begin dit sy houvas op jou verloor. Dis ‘n sterk man wat kan sê “ek het hulp nodig.” Die gees wat God binne jou gesit het, is sterker as die gees van wellus wat jou wil doodmaak.
3.) Prioriteite
Die verkeerde prioriteite het die vermoë om jou stelselmatig te verstik, totdat jy nie meer suurstof oor het nie. God het ‘n orde van prioriteite, en vir jou om in die lewe te wen, moet jy Sy prioriteite respekteer. Jou vrou kom bo jou werk/besigheid. Ek verstaan ons is mans, en ons wil sorg, en dis goed so, ons moet werk en voorsien en vooruitgaan, maar nie ten koste van dit wat God belangrik ag nie – jou gesin. As jou huwelik skade lei as gevolg van jou “ambisie”, is jy op die verkeerde pad, in liefde. As jy nie by Sy Woord uitkom nie omdat jou ure te rof is, moet jy weet die dood is nie ver nie – die dood in jou gees, in jou verhoudings, of in jou gesondheid.
4.) Jou resep
Jy ken die Skrif waar die Here sê jy moet eers Sy koninkryk soek, en Sy geregtigheid, dán sal al die res volg (Matt 6:33). Dis die resep; sit jou energie en tyd éérs in God en Sy wil vir jou in, dan volg alles waaraan jy nou so hard werk. Ek het vir jare dit verkeerd om gehad, ek het hard gewerk om alles te probeer bekom wat my hart begeer, en met die bietjie tyd en energie wat ek oor gehad het aan die einde van die dag die Here probeer dien. My intensies was nie verkeerd nie, maar my benadering (resep) was, en dit het my dood gemaak. Jy kan die beste bestanddele hê wat bestaan, maar as jy die icing saam die eiers meng, gaan jou koek flop. Volg die resep, eers Sy koninkryk, jou behoeftes daarna.
5.) Vriende
As jy God wil dien moet jy Hom dien, en as jy die goddeloses vir entertain dan moet jy dit doen. Maar jy kan ongelukkig nie jou brood aan al twee kante botter nie. Jy ken die gesegde, meng jou met die semels en die varke vreet jou op. Hoe wil jy dan in kontras met God se Woord leef en steeds ‘n suksesvolle lewe handhaaf? God se Skrif sê: “Wie met wyse mense omgaan, kry self wysheid; wie hom met dwase ophou, word self sleg (Spreuke 13:20).” Kies ‘n kant my vriend, jy wil nie eendag wakker skrik aan die lou kant nie, God gaan diegene “uitspoeg” (Openbaring 3:16). Jou vriende het die potensiaal om jou dood te maak sonder dat jy dit besef. Soos ‘n chirurg moet jy die kanker uit jou sosiale lewe uitsny, voor dit jou doodmaak.
6.) Dissipline
Eerder die tekort aan dissipline eet jou psige sonder dat jy dit besef. Daar is konstante tweestryd tussen wat jy weet jy moet doen, en wat jy werklik doen, en daai onbewustelike oorlog maak jou klaar. Ek is nie ‘n sielkundige nie, maar ek weet die term hiervoor is kognitiewe dissonansie. Dis nie verniet dat God in Matt 5:37 gesê het: “Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.” Oor ‘n tydperk verloor jy nie net self respek nie, maar ook selfvertroue. En ek is van die opinie dat jy nie finansieel voor kan kom sonder dissipline nie. Jy moet kan ‘nee’ sê vir sekere aankope en begeertes, want as jou emosies in stuur van sake is, moet jy weet daar lê ‘n rowwe pad vir jou voor. ‘n Dissipline-lose lewe maak stadig dood.
7.) Social media
Die gees van geld – Mammon – gebruik hierdie baie slinkse metode om jou as man dood te maak: As hy nie kan wegvat dit wat die Here vir jou gegee het nie (gesondheid, vrou, vermoëns, besigheid, kinders, huis, voertuig, ens.) gaan hy alles in sy vermoë doen om jou perspektief rondom jou blessings te verander. Hoe doen hy dit? Hy wys jou op social media wat jy nie het nie, en plant die leuen in jou dat jou lewe eers perfek sal wees sodra jy net dit of dat kan kry. “As my vrou net so mooi kon lyk in ‘n bikini”, “as ek net daai kar kon kry”, “as my besigheid net nog so bietjie kan groei”, “as ek my kinders na daai universiteit toe kan stuur”, fluister die vyand. Jy sien goed wat jy nie het nie, en onbewustelik begin jy begeer dit wat jy nie kan kry nie. Dan baie stadig vloei dit oor na ontevredenheid in jou binneste, jy begin fout vind met alles, en jy gebruik die verskoning “daar is niks fout met ‘n beter lewe nie”. Die vyand kry dit nie reg om jou huwelik te sink nie, so dan begin hy klein goedjies by jou vrou vir jou uitwys wat jou frustreer. Ontevredenheid maak homself gemaklik in jou hart, en sodra jy dit toelaat begin jou ondergang. God sê dat ‘n verhouding met Hom, saam met tevredenheid die groot wins is, nié ‘meer’ nie. Lees gerus 1 Tim 6:6-19.
8.) Rykdom
Die verleiding van rykdom maak mans dood. Ons verwar ambisie met gierigheid, en ons sukkel om ‘n lyn te trek en te sê hierdie is genoeg. Die probleem met rykdom is, hoe meer jy kry, hoe meer besef jy kort jy, en hoe minder kom jy op ‘n plek waar genoeg genoeg is. Ek is ‘n voorstander van ‘n goeie lewe, en om so goed as moontlik te doen in die lewe, maar as jy nie wakker is nie, as jy gierigheid toelaat (bewustelik of onbewustelik), gaan jy jouself met baie smarte deurboor: “Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word.” (1 Tim 6:9). Terwyl jy bou, onthou dat rykdom van die Here af kom, nie van deals onder die tafel, belasting ontduiking, oorwerk, schemes en ambisie nie.
Ek stuur hierdie boodskap vir jou in liefde, want ek wil hê jy moet wen in die lewe, en jou wedloop enduit voltooi. Mag dit so wees vir jou. Jou broer in Christus, Wilco.