Frustrasie en geld
Nou gaan ek met jou deel hoe verdwaal ek was, asook die frustrerende gevoel van om onder Mammon se juk te wees. Ek het dinge nagejaag wat ek nie moes nie, ek het dinge begeer wat ek nie gekry het nie, ek het myself teenoor ander gemeet, ek het in skuld geleef, ek het eers ander dinge gesoek en God se koninkryk tweede geplaas. Alhoewel ek nou vry is van Mammon se juk, vat ek jou terug toe die stryd binne my gewoed het, en hoe ek gesukkel het omdat ek buite God se raamwerk – Sy koninkryk – gefunksioneer het. Terwyl jy hier lees, doen introspeksie. As jy gedurig so voel, is dit ’n goeie indikasie dat jy heel moontlik die verkeerde juk dra:
Ek is moeg, nie net fisies nie, my gees, my siel, my liggaam, my emosies, my oë, selfs die hand wat hier skryf is moeg. Ek jaag die wind so in die dag dat ek het nie eers die krag in die aand het om die broodnodigste te doen nie – tyd saam met God deurbring. Die gejaag hou my so besig ek het nie die krag om Bybel te lees nie, en as ek bid raak ek aan die slaap. Permanent moeg, deurmekaar, uitgeput, ongelukkig en uitgestres. Moeg om te baklei om kop bo water te hou. My emosies rand my aan.
Daar is te veel dinge om te doen en te min tyd, ek kom nie by alles uit nie. Soveel om te doen dat ek nie weet waar om te vat en waar om te los nie. Die pas van die lewe raak te vinnig, moet selfs my kos in die loop begin eet, kou nou en sluk later. Vereistes en druk van alle kante, emosioneel oorbelaai. Ek is soos ’n styfgespanne rekkie, wanneer gaan ek snap? Ek’s nie gelukkig nie, ek voel kwesbaar, ongemaklik, en ongesond. My hart is seer en swaar.
Onder al die nuttelose pogings, valse gesigte en afbetaalde sukses lê ’n vakuum sonder vreugde en vrede. Ek kan daai gat probeer vul met wat ookal ek in die hande kry, of met watter item ek ook al gefinansier kan kry, maar dis soos Martin en Kluck skryf; ‘vreugde weier om in dieselfde vertrek te wees as enigiets wat dreig om dit te vernietig.’3 Ongeloof wil my beroof, ek is onseker oor die toekoms. Ek is bang. God ken ek nie, maar vrees ken ek wel.
Ek wil saam met die Here wandel, maar ek wandel met vrees. Ek is gedryf deur vrees en angs, hulle neem my besluite. Nie net neem vrees en angs besluite namens my nie, maar hulle verlam my denke.4 Al probeer ek hoe hard, ek kry nie helder gedink nie, en dit laat my nog meer magteloos voel. Ek het geen vrede nie, vrees en angs oorweldig my, dit neem my totale gedagtegang in beslag. Soms voel dit asof die aarde my wil insluk, asof die lug dikker raak, te dik om asem te haal. Asemhaling raak moeiliker, vrees en angs bedreig my suurstof. Ek voel druk van alle kante af, en ek is bekommerd oor alles.
Dit voel asof Van Heyningen my beskryf wanneer hy sê dat die ‘vernietigende mag van stres, spanning en kommer die grootste moordenaar van jou droom is.’ Hy is reg as hy sê, ‘dit vernietig alles wat mooi, edel en goed is.’5 Dit bring die slegte in my na vore.
Martin en Kluck se woorde is my realiteit: ‘Music didn’t sound good, food didn’t taste good, the world seemed dark and bleak. Life seemed a series of disappointments, peppered with occasional rays of hope.’6 Ek sien die grys en donker in alles rondom my. My omstandighede lyk swart en my toekoms lyk woes en somber.
Wêreldse ‘sukses’ beteken net meer eters. Die stryd raak net duurder en die risiko net groter. Die spanning, vernedering, frustrasie en pyn raak alledaags. ‘Sukses’ leer my hierdie is aanvaarbaar. ‘Sukses’ leer my hoe om daarmee saam te leef.
Die wêreld se sirkel van sukses sluit in; spanning, ongesonde dieet, emosionele dreinering, min slaap, uitstel, onproduktief, meer agter met alles, meer druk, nog meer spanning en minder slaap wat uitloop op ’n ongebalanseerde liggaamsklok, en al waarvoor dié ‘sukses’ goed is, is om hierdie ongesonde siklus aan die gang te hou. Ek weet nie meer nie. Is daar hoop?
Is daar ’n toekoms? Is die dood nie beter as dié gejaag na wind nie? Een ding erger as armoede is die afwesigheid van hoop. Ek voel hulpeloos. Al het ek geld in die bank, laat dit my allesbehalwe beter voel. My drome verduister in die wind. Lyk my teleurstelling is my vriend, ek moet hom verwelkom en gemaklik raak met hom.
Ek begin al hoe meer dink geld het mens vervang. Asof chaos toeneem, liefde verkoel en sensitiwiteit oorneem. Hierdie een soek dit, daardie een dat, alles trek my uitmekaar. Hoe meer ek het, hoe meer moet ek myself verdeel. Ek voel soos ’n stuk vleis wat deur honger wolwe verskeur word.
Wanneer gaan hierdie gejaag ophou? Hierdie lewe voel soos een groot gejaag na wind, en hierdie gejaag maak my ouer. Ek verouder letterlik voor my tyd. Soos ’n hoender wat rondhardloop sonder ’n kop, so hardloop ek rond en jaag dinge vir die volgende paar rand wat ek kan maak, en ek noem dit ambisieus.
Werk hard om geld te kry om kos te koop om energie te kry om weer hard te gaan werk. Dag in en dag uit. Agteroor buig om alles te kan betaal, doen besigheid om goed op te gaar, om ‘suksesvol’ te lyk in die wêreld se oë. Dit alles doen ek wetend dat ek naak grond toe gaan eendag. Al hierdie opgegaarde wind is verganklik, dit kan enige oomblik verdwyn. Met al die besittings voel dit asof ek niks bereik het nie, en nêrens heen oppad is nie.
Ek soek vrede, geluk, gesondheid, ’n gelukkige gesin, familie, vriende, voorspoed, welstand, sukses (God s’n) en betekenis. Ek jaag agter elke vooropgestelde begrip hiervan aan, min wetend alles wat ek ooit kan wil hê, is in God opgesluit. Alles wat ek begeer, is in Hom. Soek eers Sy koninkryk en Sy geregtigheid, Wilco, dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer. Ek ken dié skrifgedeelte, maar ek interpreteer hom verkeerd. Ek hoor, maar ek pas nie toe nie.
Ek jaag rond agter al my begeertes aan, en ek mis die belangrikste van alles. Alles wat ek tot dusver gedoen het en wat ek bymekaar gemaak het, is verganklik, dit is stof. Dit gaan eendag of gesteel word, of roes, of verniel, of weggegooi word. Dit is niks, dit beteken niks. Beïndruk mense kom eerste, vertroue op God tweede. Probeer alles eers self, vra die Here later.
Jaag wind jou hele lewe deur, en eers as jy moeg en uitgeput aan die einde van jou lewe kom besef dat die Here ’n plan vir jou gehad het. Dink jy behoort aan jouself, maak nie saak dat die Skrif sê jy is met ’n duur prys gekoop nie.7 Ek het die aardse, vleeslike – amper demoniese – leuen gerasionaliseer.
Dié leuen steel nie net my vrede nie, maar hou my gedagtes in ’n konstante toestand van wanorde.8 Dit voel soos ’n strik, ek’s vasgevang en sien nie uitkomkans nie. Soos Alcorn skryf, selfs die ‘dinge wat ek in klein hoeveelhede waardeer het, het hulle waarde verloor in die groot hoeveelhede.’9Byvoorbeeld uiteet, dit was altyd lekker, dis nou ’n platoniese algemene gebruik – te veel van ’n goeie ding is nie so goed nie. Die wêreldse weelde demp nie net gawes nie, maar ook die genade.
My identiteit en waarde word in die gebroke wêreld gevind, en ek beskerm dit met elke greintjie van krag. Ek klou vas aan dié siekte met ’n stewige greep. Ek is so hardnekkig wanneer dit kom by my denkbeeldige onafhanklikheid, en ook so seker van my eie oordele dat ek verlore is in my persepsie van die werklikheid.10
Dit voel asof ek in ’n titelgeveg is met die wêreldkampioen – die sisteem – as my opponent, en ek is besig om hierdie laaste rondte te verloor. Ek het God verloor terwyl ek so besig was met die Christelike leefwyse. Godsdienstige laste (pligte) weerhou my van ware lewe. Ek kyk om my en ek is alleen, geen Herder. Ek was so besig met die dinge van die wêreld ek het my Herder verlaat.
My omstandighede laat my dink aan die woorde van A.W. Tozer: ‘We Christians are in real danger of losing God amid the wonders of His Word. The simplicity which is in Christ is rarely found among us. In its stead are programs, methods, organizations and a world of nervous activities which occupy time and attention but can never satisfy the longing of the heart. The shallowness of our inner experience, the hollowness of our worship and that imitation of the world which marks our promotional methods and testify that we, in this day, know God only imperfectly, and the peace of God scarcely at all..’11
Gierigheid word vermom as ambisie. Dis asof Martin en Kluck oor my skryf: ‘I had overemphasized becoming a provider for my family. I didn’t just want to provide. I wanted to be idolized by my family and by others.’12 Die gaping tussen wat ek nou het en wat ek graag wil hê put my uit, die frustrasie eet my op.
Tevrede met niks, heeldag opsoek na iets om hierdie hongerte binne my te stil. Kyk konstant in goed vas wat ek soek en dink by myself, as ek dít kry, gaan dit my gelukkig maak? Gierigheid is afgodery – ek is besig om my hongerte te verafgod. My begeertes lei na sondes, en die sonde verteer my. My sonde veroorsaak fisiese, emosionele en verstandelike pyn. My haastigheid en begeertes het my van God af weggesleep. Kry mens iets soos ’n ongelowige gelowige? Want ek het soos Martin en Kluck beskryf, ’n ‘funksionele ongelowige’ geword.13
Sny die kettings, Here, bevry my van dié kringloop sodat ek U werk kan doen. Ek vrees oor die toekoms en sukkel om te leef sonder bekommernis. Leer my om op U te vertrou, leer my volkome afhanklikheid van U. Ek het soveel drome en begeertes, maar ek wil dit neerlê, ek wil alles aan U oorgee. U het ook drome vir my, soms wens ek my eie drome en dit wat U oor my droom, kan dieselfde wees. Hierdie ontevredenheid en onvergenoegdheid is ’n teken dat ek nog nie my volle lewe aan U oorgegee het nie. Ek hou steeds beheer oor sekere aspekte. Ek moet nog ten volle sterf. Mag daar ’n einde kom aan hierdie gejaag na wind. Mag die berg voor my verdwyn – hy is onsigbaar, maar tog so werklik dat ek kan hom voel. Help my asseblief Here.
Amen.
Wilco Naumann