Maggy is dood
Laas week Vrydag middag net voor lunchtyd stap ek in die kombuis in en skree “Maggy!” “Waar is jy?” Sy kom uit die ander rigting uitgestap met haar groot smile. Ek sê “Maggy is jy lus om vir ons kos te maak?” Sy sê ja sy’t nog nie geëet nie. Sy vra my wat ek gekoop het, ek wys haar, “beef stew, ons favorite.”
Sy smile en sê dis reg, sy het nog meel vir pap. Sy maak ‘n meneer van ‘n pap en vleis. So uur later kom roep sy my en sê die kos is reg ek kan kom op skep, ek en sy is saam kombuis toe.
Terwyl ons skep en eet vra ek haar of daar ooit iemand is wat sy nie like nie, want dit lyk asof sy almal like en met almal oor die weg kom. Sy sê sy het God se liefde in haar hart, en sy kan nie met enige bitterheid rondloop nie. En dis waar ons vurige debat begin het.
Ek is van die opinie ons moet almal lief hê, soos God se Woord van ons verwag, maar daar staan nie jy hoef saam almal te braai nie. Maggy stry met my, sy smile en sê om lief te hê is om te like. Ek stap weg, versadig van die stew en dink na oor Maggy se liefde vir mense.
Dis naweek, ek gaan huis toe, en soos gewoonlik steek ek ‘n vuurtjie aan op ‘n Sondag middag. Maandag oggend, in November vroeg die oggend vra ek my vrou om asb al gister se oorskiet vleis in ‘n Tupperware te sit ek wil vandag vir Maggy saamvat kantoor toe, sy like hoe ek hoender braai.
Om 08h30 stap ek in die kombuis in en skree soos gewoonte, “Maggy!” maar Joyce kom uit. Ek sê “hi Joyce hoe gaan dit? Waar is Maggy?” Sy sê “het jy nie gehoor nie?” “Nee wat vra ek?” “Maggy. Sy is dood.”
Van skok verhef ek my stem en sê “nee man moenie vir my lieg nie! WAAR is Maggy!” terwyl ek na die stoorkamer toe stap agter in die kombuis om haar te soek. Ek draai om en kyk Joyce in die oë toe sien ek, Maggy is dood.
Joyce se rooi oë lieg nie. Al wat ek kan uitkry is “nee man nee man!” Is julle seker!? “Maggy het gekom by die church en die ander dronk man het hulle geslaan van voor” sê sy vir my. “Ai Here nee!” Ek stap weg met die hoender in my hand en al wat ek uit kry is “nee Joyce, nee Joyce.”
Maggy is weg. Nooit weer sal ek daai smile sien nie, nooit weer sal ek haar stew eet nie, nooit weer sal sy my leer oor wat dit beteken om werklik lief te hê nie.
Ai Here, ek verstaan nie die lewe nie, hoekom Maggy? Hoekom nou? Nee Here, nee. Ek mis my vriend Here. ‘n Vrou wat ken van swaarkry, wat ken van vernedering. ‘n Vrou uit ‘n ander generasie, ‘n vrou van ‘n ander ras. En sý leer my oor U hart, sý leer my oor U liefde.
Ai Here, ek weet sy is nou by U, sonder twyfel. Wees asb maar saam haar kindertjies Here, wees daar vir hulle. Ek gaan almal probeer lief hê, en like soos Maggy Here, help my daarmee. Sê hallo vir Maggy Here, sê vir haar die kombuis sal nooit weer dieselfde wees nie, sê vir haar, haar vriend mis haar.
Amen.
Wilco Naumann