Identiteit en geld
Aanvanklik het ek nie geweet waaraan om my identiteit te koppel nie, so ek het maar gevat wat eerste gekom het – ek het myself gedefinieer deur hoe ek my inkomste gegenereer het, deur werk en besigheid. Die probleem hiermee is, wat bly oor van jou, as dit waaraan jou identiteit gekoppel is, verdwyn? Want soms gebeur dit. Wie is jy dan? Sodra jy jou inkomste – en dan ook jou identiteit – verloor, affekteer dit jou nie net nie, jy word ook forseer om anders oor geld te dink, en daarmee te werk.
William P. Young skryf dat die heelal uitmekaar geskeur is by die sondeval, en die geestelike en fisiese van mekaar geskei het. Ons geld is in die fisiese, maar ons identiteit is uit die geestelike – of veronderstel om te wees. Daarom is dit krities dat jou identiteit in Christus moet wees, en nié in geld of besittings nie. Geld en besittings moet – en gaan – vergaan, nie jou identiteit nie. Onthou, ons is ín hierdie wêreld, maar ons is nie ván hierdie wêreld nie. Johannes (nie die doper) het gesê, “‘n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie.” Al jou vermoëns en jou hele bestaan kom van God af. Besef dat alles wat jy is en het van God af kom. Jou identiteit moet dus ook van Hom af kom.
Ek en jy behoort nie aan die wêreld nie, ons is God se eiendom. Ons is verlos, ons sonde is afgewas en ons is ‘n nuwe lewe geskenk. Ons het die Heilige Gees oorvloedig ontvang en ons is vrygespreek en het die ewige lewe as belofte ontvang. Ons is vry van ongeregtigheid en vry van sonde. Dít is jou identiteit.
Is jy persoonlik gekoppel aan die wêreld se ekonomie, of aan God se ekonomie? Dis moontlik om ‘n wedergebore Christen te wees, maar jou identiteit in iets anders gekoppel hê as in Christus. Soos ‘n pastoor eendag gesê het, “‘n Persoon wie se identiteit nie in God is nie, se dade lyk soos iemand wat nie ‘n identiteit het nie.”
Waaraan heg jy jou waarde? Want waaraan jy waarde heg, is ‘n indikasie van waaraan jy jou identiteit kan koppel. Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
In sy boek The Inner Struggle of Worry, Stress and Fear, skryf Harold Sala, “As mens is ons gees, siel en liggaam. As ek nie bewustelik leef asof ek gees is nie, en besluite daaruit maak nie, leef ek uit die liggaam, en soms leef ek asof daar nie ‘n God is nie. As jy die geestelike lewe ignoreer, neem die sondige vleeslike een oor, en hy gaan sy eie begeertes probeer bevredig.” Moet dus nie jou identiteit aan jou geld koppel nie.
“In die wêreld gaan party goddelose mense welaf wees, en party godvresendes gaan nie baie geld hê nie,” skryf Randy Alcorn. Hoekom dit só is kan ek nie vir jou sê nie. Die Skrif sê dat die Here dit laat reën oor die goddeloses en die regverdiges. Wat ek wel vir jou kan sê, is dat, indien jy jou identiteit – en godsaligheid – gaan koppel aan jou bankbalans, is jy in vir ‘n gewaarborgde teleurstelling. Daar is nie ‘n swart en wit as dit hierby kom nie, jy kan nie sê regverdiges moet ryk wees, en goddeloses moet arm wees, of andersom nie. Skei jou geld en identiteit. Koppel jou identiteit slegs aan God, en Sy Woord. Buitendien, as ander mense se voorspoed en teëspoed jou fokus is, is jou fokus baie uit.
Wilco Naumann