Vereenvoudig jou leefstyl
12 Praktiese toepassings om jou leefstyl te vereenvoudig
Indien jy finansiële deurbraak begeer, is dit belangrik dat jy uit skuld uit kom. Maar om net te wens is nie genoeg nie, aksie word vereis. Deur jou lewenstandaard te vereenvoudig sal jou geweldig baie baat. Die vraag is dus, hoe doen ek dit? In hierdie boodskap deel ek twaalf praktiese toepassings om jou leefstyl te vereenvoudig. Meer geld alleen is nie genoeg nie, onthou dat ‘n oormaat skuld en te min spaargeld nie die probleem is nie, slegs ‘n simptoom van ‘n probleem. In my finansiële seminaar (10 Sep 2022 Paarl) gaan ons in diepte in die stappe hoe om uit skuld te kom.
Een – Leer om nee te sê. Jim Rohn stel dit so: “Don’t let your mouth overload your back.” Soms kry ons monde ons in die moeilikheid. Deur nee te begin sê vir aankope, uitverkopings, vakansies en mense gaan jou baie geld spaar en jou help om uit skuld uit te kom. Jy kan nie aangaan soos wat jy aangaan en dink die resultaat gaan skielik anders wees nie.
Twee – Staak krediet aankope. Hou eenvoudig op geld leen. Maak nie saak wat opduik nie, jy moet ophou leen. Kry ‘n noodfonds op die been ten einde al die klein aankope te elimineer. Dit is van kardinale belang om nie meer op rekening te koop nie – slegs kontant. Wees versigtig vir skuld, dis talle se ondergang. As jy nie kontant daarvoor kan betaal nie, moet dit nie koop nie. Sny kredietkaarte op.
Drie – Pas selfbeheersing toe. Tesame met dissipline. Aankope en besteding moet beheer word. Dit is moontlik, God het ons ’n gees gegee van selfbeheersing (2 Tim 1:7). Aristotle het geskryf: “I count him braver who overcomes his desires than him who conquers his enemies; for the hardest victory is over self.” Soms is die grootste struikelblok die persoon in die spieël, en die grootste hindernis sy ingesteldheid.
Vier – Bestee altyd minder as wat jy verdien. Moet ook nie koop wat jy nié nodig het nie. Dit klink logies en eenvoudig, maar die oorgrote meerderheid van die samelewing doen dit. Dus, prioritiseer jou aankope. Leef eenvoudig en goedkoop. Spandeer op ’n wyse wat die Here behaag. Hou in gedagte dat hoe meer jy koop, hoe meer besittings het jy om na om te sien. Te veel besittings kan jou tyd en aandag beroof wat eintlik bestem is vir jou verhouding met die Here. Streef daarna en stel eer daarin om rustig te lewe (1 Tess 4:11-12). Moet ook nie mors nie. In Lukas 16 lees ons hoe Jesus Sy dissipels die verhaal vertel het van die bestuurder wat sy amp verloor het omdat hy die besittings vermors het (Luk 16:1-2).
Vyf – Wees geduldig. Pas geduld toe indien jy nie nou iets anders of nuwer of beters kan kry of bekostig nie. Onthou jou bates moet die luukshede in jou lewe koop. Eens op ’n tyd wou ek ’n mooi voertuig gehad het. My eerste opsie was om bank toe te gaan, die geld te leen en dan dieselfde week nog met hom rond te ry. My tweede opsie was om my swaar-verdiende geld te spaar totdat ek genoeg gehad het om die voertuig kontant te kan koop. My derde opsie was om die bietjie deposito wat ek reeds gehad het, om te skakel in ’n bate wat geld vir my begin verdien en daardeur die voertuig te koop, sonder om ’n banklening of my eie geld te gebruik. Wees geduldig. As jy iets ‘moet’ hê, koop dit deur jou bates. Besef dit gaan nie maklik wees of oornag gebeur nie, maar as jy volhard sal jy hieruit kan kom en vry wees.
Ses – Wees tevrede met wat jy het. As jy nie tevrede is met wat jy het nie gaan jy sukkel om uit skuld uit te kom. Baie wat ons koop het ons nie nodig nie. Om tevrede te wees met wat jy het, is vergenoegdheid. “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ’n groot wins (1 Tim 6:6).” Dit is ’n leuen wat jou laat dink meer besittings gaan meer sekuriteit verskaf. Thomas à Kempis het geskryf: “Let temporal things serve your use, but the eternal be the object of your desire.” Jou diepste behoeftes, ware geluk, volkome tevredenheid word nie uit dinge verkry nie, maar slegs uit ’n verhouding met God en deur ’n gesonde en gelukkige verhoudingslewe – met jouself en ander mense. Hoe gesonder die interne, hoe minder die begeertes en behoeftes na aankope.
Sewe – Wees realisties. Jou inkomste alleen gaan jou nie uit skuld uit kry nie. Jou ingesteldheid, houding en geduldvlakke teenoor jou besittings, leefstylkeuses, spandering, spaar, filosofie, denke, behoeftes en begeertes, is wat jou uit skuld uit gaan kry. Ontwikkel die regte verhouding met geld en besittings. Ek stem saam met Ramsey wanneer hy sê jy sal gemaklik moet raak met die volgende woorde, want dit is jou sleutel tot sukses: Harde werk, ywer, dissipline, volgehoue werk en moeite.
Agt – Waak teen reklame. Ontevredenheid word ook geskep. Die media skep behoeftes wat geen geld kan bevredig nie. Pasop vir advertensies, dit skep ’n subtiele begeerte na onnodige besittings en ’n vae ontevredenheid in jou onderbewussyn met wat jy tans het. Daar is mense wat jare lank op universiteite spandeer het en die kuns aangeleer het om ons ontevrede te maak met wat ons het en met wie ons is. Deur middel van reklame skep hulle begeertes na dinge wat ons nie werklik nodig het nie. “Die advertensiewese het kragtige, gesofistikeerde metodes ontwerp om verbruikers te oortuig dat hulle dinge nodig het,” skryf prof. Nel.
Nege – Maak ’n radikale verandering in jou lewenstyl. Dit is in ons natuur om dinge te wil hê, en hoe gouer hoe beter, maar jy sal moet leer om daarteen te baklei ten einde klaar te maak met skuld. Die geveg teen die menslike natuur gaan jou uit slawerny bevry. Die swem téén die stroom gaan jou bevry. “Jy kan so veel as wat jy wil God se plan vir jou finansiële lewe soek, maar as jy nie jou skuldpatroon gaan verbreek nie, is jou hoop tevergeefs,” verduidelik Alcorn. Om klaar te maak met skuld moet jy jou leefstyl aanpas. Baie kan dit nie doen nie en bly dus vir die res van hul lewe in ballingskap (Spr 22:7). Hulle kies eerder om hul gewete aan te pas, as hul leefstyl. Maak jouself vry van die slawerny van skuld. Eerder ’n arm maar vry man as ’n ryk slaaf.
Tien – Hou op om jouself met ander te vergelyk. “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie (Rom 12:2). Die begeerte om ‘by te bly’ deur middel van luukshede gaan jou skuld en uitgawes hoog hou en jou forseer om in die ritme te bly waarin jy tans is – om daardie lewenstyl van valse sukses te handhaaf. As jy jouself wil vergelyk, vergelyk jouself met mense wat minder het as jy, dit sal jou ’n dankbare en tevrede mens maak. Al vergelyking wat jy moet maak is jou waardestelsel teenoor God se Woord. Wees dankbaar vir al die seëninge wat jy reeds het, fokus eerder daarop. Om Christus te dien het niks te doen met hoe hoog jy jou inkomste kan kry nie, maar alles met getrouheid en gehoorsaamheid. Moenie jou waarde koppel aan dit wat jy kan bekostig nie. Staak vergelyking.
Elf – Leef vanuit ’n ewigheidsperspektief. Ons is slegs tydelike bewoners, “vreemdelinge en bywoners op aarde” (Heb 11:13). Hierdie is nie ons ewige woning nie, hierdie is slegs ons pelgrimstog, “want ons burgerskap is in die hemele” (Fil 3:20). Tree dus op as ambassadeurs of “gesante om Christus wil” (2 Kor 5:20), en “wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap” (1 Pet 1:17). Jesus het vir ons gesê om hemelse skatte bymekaar te maak, “waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie” (Matt 6:20). Behou – en bekom – slegs dié besittings wat jou in staat sal stel om God se doel vir jou lewe te verwesenlik.
Twaalf – Herken die vyand vir wie en wat hy is. “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind” (1 Pet 5:8). Die satan is uit om jou te vernietig. As baie jou vernietig gaan hy sy beste doen om baie geld by jou uit te kry. As slawerny in skuld – wat jou weerhou van God se spesifieke en unieke plan vir jou lewe – jou gaan vernietig, dan sal die vyand alles in sy mag probeer om jou in slawerny te hou. Hy gebruik ook vrees om jou in slawerny te hou. Jy is bang, benoud en bekommerd dat jy geld gaan verloor, jy vrees dat jy nie al jou verpligtinge kan nakom nie. Hierdie vrees weerhou jou om uit te breek en ‘anders’ te werk met jou geld, dit weerhou jou om tiende te betaal, om te belê, en om skuld te delg. Erken dat vrees nie van God af is nie – Hy het ons nie ’n gees van vrees gegee nie, maar van krag. Moet ook nooit vergeet dat ons in ’n oorlogsituasie (geveg) is nie. “Dra jou deel van die ontberings soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus. ’n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie (Ef 6:12).
Blessings
Wilco.