Denke en geld
Armoede is nie ‘n tekort aan geld in die bank nie. Armoede is ‘n tekort aan die regte filosofie en denkwyse ten opsigte van geld. Jy is wat jy dink. Jou denke beheer jou hele lewe. Elke droom, en elke stap om daardie droom te bereik, begin met ‘n gedagte. Besef dat daar groot waarde in positiewe denke is, en ag dít wat in jou gedagtes aangaan belangrik.
‘n Tekort aan geld (armoede) is ‘n ingesteldheid of ‘n denkwyse. Die feit dat dit sigbaar is in jou omstandighede, is tien teen een as gevolg van die feit dat jy nie die probleem aangespreek het nie. Jy verwar die probleem (denke) met die simptoom (armoede). Die simptoom is gewoonlik sigbaar, so dan fokus jy daarop. Waar die probleem in dié geval onsigbaar is. Ons werk hard aan die simptoom, maar nooit aan die wortel van die probleem nie. Onthou hierdie stelling: Te min geld is nie die probleem nie! Dit is ‘n simptoom van die probleem. Die sigbare simptoom is ‘n tekort aan geld, maar daar is verskeie oorsake of probleme, onder andere; wanbestuur, swak beplanning, verdraaide waardestelsel, die verkeerde filosofie en denkwyse ten opsigte van geld, en dít is wat ons moet aanspreek.
Een van die groot lokvalle en houvas van armoede, is die feit dat dit jou laat dink dat omstandighede en/of die noodlot iets daarmee te doen het. Maar dis nie die waarheid nie. Omstandighede is sigbaar, bo die oppervlak. Die ware probleem is onder die oppervlak, onsigbaar, die wortel. Daar is baie eksterne faktore waaroor ons geen beheer het nie. Die goeie nuus is, dit wat wél die probleem is – die wortel – is veranderbaar. Ek het grootgeword met ‘n armoedige mentaliteit, en as ek dit kon verander, kan jy ook.
Hier was my slegte kombinasie: Armoedige denkwyse (wat na baie jare en geslagte oorgeloop het in armoedige omstandighede) gemeng met ‘n skuldgevoel en veroordeling oor my sondes. Voeg daarby ‘n swak selfbeeld en jy kry ‘n persoon wat lief is vir die Here, maar totaal onbruikbaar is. Armoede, slegte selfbeeld en veroordeling het gemaak dat ek geen selfvertroue gehad het om die Evangelie met mense te deel nie. Ek skryf nie oor selfbeeld en sondes nie, my skrywe gaan primêr oor finansies, en die foute wat mens daar rondom maak. Maar ons sit met al die probleme, en niemand sê vir ons om die wortel van die probleem uit te sorteer nie. Ons sien die simptome, en probeer hard om die simptome te bestuur of verander. Jy gaan nie ontslae raak van onkruid deur die blare af te sny nie, jy moet by die wortel uitkom, en hom uitroei.
Weereens, daar is verskeie faktore wat ‘n rol speel in ‘n armoedige ingesteldheid, maar te min geld is nie die grootste of enigste bydraende faktor nie. Armoede is ‘n mentaliteit, armoede moet en kan oorkom word. Verouderde denke lei nie na nuwe omstandighede nie. Soos daar in Romeine staan, is dit elkeen se verantwoordelikheid om sy/haar denke te vernuwe.
Armoede is ‘n verkeerde – maar tog sterk – ingesteldheid waardeur jy sal moet breek. Partykeer lei God jou deur ‘n moeilike tydperk, en ander kere beleef jy wintermaande, maar soms is dit as gevolg van ‘n armoedige ingesteldheid, en dit kan jy verander.
Die voordeel van ‘n sekere denkwyse wat in ons guns tel, is dat die mens ‘n denkwyse of gedagtepatroon kan verander. Jy hoef nie dieselfde leuens te bly glo nie. ‘n Denkwyse is ‘n versameling gedagtes wat jy op ‘n sekere manier rig, of wysig. Omdat jy beheer het oor jou denke (al voel dit nie so nie), kan jy jou gedagtes anders begin rig. In Engels noem hulle dit ‘n “mindset”. Dis jou ‘mind’ wat jy ‘set’. So ‘set’ hom anders. Begin deur ‘n gesonde filosofie aan te leer, deur jou denke en uitkyk te verander.
Wilco Naumann