God het my vergeet
Ek sit op die lughawe, wag vir ‘n vlug, en dan doen ek wat ek altyd doen. Kry vir my ‘n lekker koffie en haal my journal uit. Tyd om rou woorde wat ek vir die wêreld wegsteek, met God te deel. Almal wat op my pad kom beweeg vooruit, of so blyk dit, terwyl ek een terugslag op die ander beleef. Voel asof ek rondgeslinger word in ‘n aggressiewe wasmasjien, asof die lewe sy frustrasies op my uithaal terwyl ek net moet smile en toekyk hoe my lewe en drome voor my verdamp soos mis voor die son.
Hoe lank nog voor U kom, Here, vra ek. Hoekom hoor ek nie U stem nie? Hoekom laat U toe dat al hierdie dinge met my gebeur? Ek verstaan die woestyn en die reinigingsvuur, maar hoeveel kan een mens nog vat? Het U my verlaat, is U daar, hoor U my nog? Weet U van alles waardeur ek gaan? Is U bewus van al die onreg wat my aangedoen is? “Ek weet U is daar, maar ek weet nie of U daar is vir mý nie”, skryf ek.
Terwyl ek nog so ‘n private-fit gooi, loop daar ‘n traan onwillekeurig oor my wang, want God se Gees het iets in my hart gefluister. Sewe woorde, maar ek weet dis Hy: “Kan ‘n ma haar pasgebore baba vergeet?” hoor ek in my gees. Dadelik weet ek wat Hy bedoel.
Ek pluk my Bybel uit en soek daai vers. “Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer, Ek sien jou mure altyd voor my.”
Dis toe ek besef die leuen kry my onder, en as hy my probeer verniel, gaan hy tien teen een jou ook probeer kraak. Daarom deel ek hierdie met jou sodat jy nie sal twyfel nie. As jy op so ‘n plek is en dink jou lewe is verby, dis te laat vir enige iets, God het my vergeet, daar is nie meer hoop nie, weet dit:
Die leuen sê God is jou vyand. God sê: “Ek is ‘n vyand van jou vyand.” (Jesaja 49:25)
Die leuen sê daar is nie ‘n toekoms vir my nie. God sê: “Waarlik, daar is ‘n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.” (Spreuke 23:18)
Die leuen sê ek kan nie God se stem hoor nie. God sê: “Elke môre laat Ek jou opnuut luister.” (Jesaja 50:4)
Die leuen sê ek is te sag vir hierdie wêreld. God sê: “Dink aan die rots waaruit jy gekap is.” (Jesaja 51:1)
Die leuen sê God het jou nie lief nie. God sê: “Ek het jou nog altyd liefgehad, daarom het Ek jou met geduld verdra.” (Jeremia 31:3)
Die leuen sê dis verby met jou, daar is nie hoop nie. God sê: “Ek sal vir jou ‘n uitkoms gee.” (Jeremia 31:13)
Die leuen sê God stel nie belang in my lewe nie. God sê: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.” (Jeremia 33:3)
Die leuen sê niemand ontferm hulle oor my nie. God sê: “Ek sal My ontferm oor Sonder-ontferming.” (Hosea 2:22)
Die leuen sê ‘n mens moet vir jou ‘n deur oopmaak en jou help. God sê: “Hulp kom net van My af.” (Jona 2:9)
My koffie is klaar. Ek stap af in daai gang na die vliegtuig en dink aan die leuen wat my laat glo God het Sy rug op my gedraai. Die waarheid is, vir my en vir jou: “Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer, Ek sien jou mure altyd voor my.” (Jesaja 49:15)
Comment (1)
Baie dankie hiervoor. Dit het baie vir my beteken.
Ek ken die waarheid maar somtyds kies ek om die leuen te glo…ek weet nie hoekom nie.
Dankie vir jou gehoorsaamheid om dit te deel.
Godbless