Geestelike finansiële oop deure vir Mammon
Geld kan ‘n ingewikkelde storie raak. En daar is baie praktiese beginsels wat mens moet regkry. Maar in my opinie dra die geestelike sy meer by tot jou finansiële welstand, of agterstand. Dis waarom ek die boek God & Money geskryf het. Maar hier is so paar geestelike deure wat jy kan oopmaak vir die gees van geld Mammon om stelselmatig jou lewe te begin oorneem:
Ontevredenheid
As jy aanhou kla oor wat jy het, en begeer dit wat jy nie het nie, maak jy die deur oop vir dié entiteit om homself gemaklik te maak in jou lewe. Jy word gesmoor elke maandeinde omdat die budget nie klop nie, en verkeerdelik dink jy dis te min geld. Meantime is dit Mammon wat jou suurstof afsny van binne af. Die Bybel sê godsaligheid saam met tevredenheid is ‘n groot wins (1 Tim 6:6). Om in verhouding met God te staan en om tevrede te wees met die porsie wat vir jou afgemeet is, is beter as groot rykdom. Maar jy is te besig op social media om ander mense se lewens te begeer, terwyl dit jou siel onbewustelik ontevrede maak met al die blessings wat jy reeds het, maar mis kyk.
Materialisme
Dit lyk smart om smart te lyk, volgens jou en al jou arm vriende, en oppervlakkige mense. Jy weet nie wie jy is in Christus nie, jy weet nie wie God jou geskep het om te wees nie, so nou soek jy validation deur materiële besittings. Jy dink die kar wat jy ry, die klere wat jy dra, en die buurt waarin jy bly gaan maak dat mense jou respekteer. Al wat jy doen is jy maak ‘n deur oop vir die gees van geld om jou lewe te kom oorneem. Hy gaan nie aan jou hart se deur kom klop en sê “maak oop ek wil God se plek in jou hart kom oorneem nie” (Matt 6:24). Nee, hy gaan subtiel jou identiteit aanval sodat jy jou waarde koppel aan syfers, hetsy dit syfers is in jou bank rekening, of die syfers op die skaal (girls…), sodat jy nie meer waardeer wie jy is en wat jy het nie.
Gierigheid
Dis die begeerte na meer en meer. Die wêreld het jou geleer dis ambisie, maar eintlik is dit gierigheid. Jy het nie meer nodig nie, die gees van geld Mammon het sy gap gesien en jou lewe binne gedring, en hy is besig om jou uit te teer van binne af deur vir jou te sê jy is ambisieus. Die Christen vandag het die vermoë verloor om te onderskei tussen ambisie en gierigheid. Jy skuld niemand ‘n verduideliking nie, maar vra jouself eerlik af: Wat is my motief? Hoekom doen ek hierdie werklik? Hoekom ruil ek soveel van my lewe in vir hierdie werk of besigheid? Gierigheid is ‘n sonde my vriend, nie net maak jy ‘n deur oop vir Mammon in jou lewe nie, jy staan ‘n baie goeie kans om uit te mis op die ewige lewe. Gaan lees bietjie in Kolossense 3:5 en 1 Korintiërs 6:10. As jy ambisie verwar met gierigheid is jou lewe die prys wat jy gaan betaal.
Beplanning
Jy dink beplanning is onbelangrik, maar min weet jy dat dit die deur oopmaak vir Mammon. Jy het nie, want jy beplan nie. Jy bou ‘n (finansiële) huis sonder om eers die plan op te trek (Lukas 14:28). Die Here is duidelik oor die beginsel: as jy nie die bietjie mooi bestuur wat jy het nie, dan kan jy nie toevertrou word met meer nie (Lukas 16:10-11). Om anders hieroor te dink is naïef. Beplanning is ‘n beginsel, en die beginsel is belangriker as die bedrag. En as jy die beginsel nalaat, maak jy die deur wawyd oop vir Mammon. Jy kan dit erken in jou lewe: jy het nooit ‘n grip op jou geld nie, jy werk hard maar weet nooit waarheen dit gaan nie. Jy kan net nooit jou vinger presies daarop sit wat gebeur het nie. Hier is die ding, as jy nie beplan en vir geld sê waarheen om te gaan nie, gaan jy altyd na die tyd wonder waarheen is dit. Beplanning maak die deur toe.
Ek skryf hierdie in liefde vir jou, want ek wil jou jare se hartseer spaar. Blessings, Wilco Naumann.
Leave a Reply