Televisie se invloed op geld

“Teen die tyd dat die jongmens met graad 12 klaar is, het hy/sy 10 800 ure in die skool spandeer en 15 000 voor die televisie! Kinders kyk meer tyd televisie (30-50 ure ‘n week) as wat hulle enigiets anders doen, behalwe slaap,” skryf prof. Marius Nel. Watter invloed dink jy het die televisie op jou kind, en watter waardes word oorgedra?

Volgens ‘n studie deur Nielsen dui statistiek daarop dat volwassenes gemiddeld vyf ure televisie per dag kyk. Dit is omtrent ‘n dag en ‘n half per week! Is dit nie snaaks hoe ons sukkel vir ‘n gaping gedurende ons ‘besige skedule’ om tyd saam met die Here te spandeer nie, maar ons kry tyd vir vyf ure per dag om televisie te kyk? Nie eers gepraat van die nagenoeg drie ure per dag wat ons op sosiale netwerke deurbring nie.

Ter illustrasie gaan ek nog een van Jim Rohn se analogieë uitlig. Jy weet dat wanneer jy geld spandeer, verloor jy nie net die fisiese note uit jou besit nie, jy verloor ook die moontlike opbrengs wat daardie geld kon genereer. Dit is net so met die televisie. Jy verloor nie net die fisiese ure wat gemors is voor die skerm nie, jy verloor ook die moontlikhede en vaardighede wat gedurende daardie ure gekweek en bekom kon word. Om televisie te kyk kos ons baie meer as waarvan ons bewus is.

Hier is ‘n eenvoudige voorbeeld van wat dit jou werklik kos om voor die televisie te sit. Veronderstel jy woon in Suid-Afrika, het ‘n gewone televisie en ‘n DSTV pakket. As jy ‘n middelmatige televisie koop teen ‘n 2019 prys, gaan jy om en by R6 000.00 betaal. Jou televisie-lisensie en DSTV inskrywing beloop plus minus R900 per maand. R900 x 12 = R10 800. Die fisiese uitgawe vir die eerste jaar kos jou R16 800. Dit is die koste wat jy kan sien, maar dit is nie die totale bedrag wat dit jou kos nie.

Veronderstel jou netto inkomste is R20 000 per maand en jy werk agt ure per dag. Jou werkgewer betaal jou dus R125 per uur. As jy een van die statistiek gevalle is wat vyf ure per dag televisie kyk, kos die verkwistende ure jou ‘n addisionele R625 per dag! Maak die som wat kos die televisie jou per jaar. Ek besef dit is nie geld wat jy fisies verloor nie, maar dit is beslis geld wat nie gemaak word nie.

Wat kan jy in vyf ure per dag doen? Hoe sal jou geestelike lewe lyk as jy bietjie van daai tyd in die Woord spandeer of om te bid? Hoe sal jou gesondheid lyk? Hoe sal jou finansies lyk? Hoe sal jou huwelik lyk? Hoe sal jou verhoudings lyk? Hoe sal jou motorhuis en pakkamer lyk? Die punt wat ek wil maak is, televisie kyk is nie ons vriend nie. Soos ek voorheen melding gemaak het, tyd is ons waardevolste kommoditeit, en ons is besig om dag vir dag, vyf ure op ‘n slag weg te gooi, en dit op iets wat nie noodwendig gesond of opbouend is vir ons nie.

Die resep vir sukses lyk baie dieselfde as die resep vir mislukking. Dit is net die bestanddele wat verskil. ‘n Paar klein dissiplines vandag toegepas maak al die verskil, sê Rohn verder. Tel al die klein gesonde dissiplines op oor ‘n jaar, en ‘n leeftyd, en die uiteinde is ‘n suksesvolle lewe. Net so, tel al die klein ongesonde gewoontes bymekaar oor ‘n jaar, en uiteindelik ‘n leeftyd, dan kry jy wat ons noem, ‘n mislukking. Verander die klein dinge. Ruil die televisie kyk tyd in en lees ‘n goeie boek. Begin met ‘n klein Bybel leesprogram. Ruil die fudge in vir ‘n appel. Ruil die lusteloosheid in vir ‘n stappie om die blok. Sit die wegneemetes se geld in ‘n spaarblik. Begin ‘n goeie finansiële plan en ‘n klein noodfonds.

Onthou, die verskil tussen sukses en mislukking lê in die klein dinge. Begin deur jou filosofie aan te pas. Wees dan getrou in die klein dinge, nie net sal jy die vrug sien en geniet nie, maar jy sal ook toevertrou word met die groter goed.

Share this post