Die Westerse samelewing

Die Westerse manier van leef is nie goed vir ons nie. Besittings, aansien, voorkoms, beïndruk, getroud met ritmes – haastige vinnige verkeerde ritmes. Plastiekkaarte, plastiekvriende, plastiekmense, plastiekafgode, oppervlakkige verhoudings, min sinvolheid, vlak karakters, blink voertuie, blink gesigte, klipharde harte, gekoopte geluk, geen ware vreugde – elke gorilla vir homself.

Alles is vinnig en kits; kitsbanke, kitslenings, kitskos, selfs kitsvrouens. ’n Kitslewe met meer tegnologie maar minder tyd, meer bakleiery en minder vrede, meer vrees, angs, en volop materialisme. Oppervlakkige gebede, groot godsdiens maar klein goddelike verhoudings met Hom. Vinnige gebede en vinnige humeure. Groot huise, klein harte, groot ego’s, klein geloof, groot spiere, klein integriteit – elke gorilla vir homself.

Omdat alles kits is, verwag ons God moet ook ’n vinnige antwoord en oplossing gee. Hy lag. Haastige voete, bedrieglike tonge, vuil hande, bebloede gewetens, geldgierige harte, valse lippe, dowwe oë, toe ore, verdraaide denke – elke gorilla vir homself.

Ons sien maar ons sien nie, ons hoor maar ons hoor nie, ons weet maar ons weet verkeerd, ons het volop kennis maar ’n tekort aan wysheid. Ons bid, maar wil eintlik nie hoor nie, want ons weet ons gaan nie hou van wat Hy sê nie. Ons vra, maar ons soek ons eie antwoorde. Sy planne beteken ongerief en ongemaklikheid vir my – uit my gemaksone. Ons wil nie eintlik iets van Sy planne hoor nie, Hy moet net ons planne seën. Sy standaarde maak my ongemaklik, want dit is in teenstelling met die res van die wêreld.

Sy wil kan tog nie reg wees nie? Dit lyk dan so anders as waarmee ons grootgeword het. Draai die ander wang? Loop nog ’n myl? As hy jou bo-kleed vat, gee hom jou onderkleed ook? Wraak kom my nie toe nie? As jy haat is jy ’n moordenaar? My hardverdiende geld weggee? Onvergenoegdheid is gierigheid? Gierigheid is afgodery? Dit kan mos nie reg wees nie?

Ons moet van buite mooi lyk, ons moet die ander mense beïndruk met wat ons ry en waar ons bly, die prys van my voertuig bepaal hoe geseënd ek is, die grootte van my horlosie en die buurt van my huis bepaal hoe belangrik ek is, natuurlik belangriker as ander. My hele lewe gaan oor beïndruk, ander moet kan sien, en weet God seën my. Hulle moet kan sien hoe baie geld ek het, want baie geld is mos gelykstaande aan sukses. Hoe meer geld hoe meer geseënd, of hoe?

Nie net is ek deel van die sisteem nie, ek beoog om hom te bemeester. Ek het mos pille. Pille wat my aan die slaap kry en pille wat my wakker maak. Pille wat my opgewonde maak, en pille wat my kalmeer. Ek het mos goeie inkomste en ek sit mos Sondag my kerkgesig aan en steek my godsdienstige hand op.

Ons weier om te vergeef, ons leer eerder om daarmee saam te leef. Ons het mos lief, net dié wat ons liefhet, ons is mos vriendelike mense, met dié wat eerste vriendelik is met ons! Ons het mos vriende op Facebook, hulle weet wat in ons lewens aangaan, hulle kan mos sien waar ek die naweek was en wat ek geëet het. Hulle kan my foto’s sien en wat in my lewe aangaan. Ons hoef nie meer brood te breek in mekaar se huise nie, ons verkeer mos op sosiale netwerke. Ons verruil die eg vir die plastiek, die vlees vir die skerm. Ons is sulke mooi grafte – leë, oppervlakkige, witgeverfde, van-buite-af-mooi, vlak grafte!

Here, vergewe asseblief ons generasie. Gee ons die krag om ons drome aan U oor te laat. Skenk ons ook die krag om ten volle op U te vertrou, nie net vir die daaglikse nie, maar ook vir die toekoms. Dit is net in U wat ons ’n veilige toekoms het. Vergewe asseblief ons onvergenoegdheid en ondankbaarheid. Ons het die wêreld se weë te lief. Amen

In die een asem het ek God gesmeek vir materiële seëninge, maar in die ander asem het ek my drome voor die Here neergelê en Sy wil gesoek. Ek sou dit nie toe erken het nie, maar dit is baie duidelik dat ek God en Mammon tegelyk wou dien. Nie net het ek albei probeer dien nie, ek het tot God gebid om dit asseblief moontlik te maak vir my, en die vermetelheid gehad om Hom te vra om dit spoedig te laat gebeur!

Is die mens nie soms belaglik nie? Die stryd vir die eerste plek in my hart was duidelik sigbaar. Die wêreld en sy dinge lyk te mooi en is te aantreklik, so ek probeer daaraan vasklou en terselfdertyd God daardeur dien. Amper soos ’n bruid wat met haar man wil trou, maar sy wil nog drie keer ’n week saam ’n ander man uithang.

Hierdie veroorsaak selfsugtige gebede. Nee, manipulerende gebede! Ek het gedink as ek hard genoeg daarvoor bid, gaan die Here Sy karakter verander om by my perverse planne in te pas. Mammon was so in beheer dat ek gedink het ek kan God se ‘arm draai’. Hoe belaglik!

In retrospek dink ek God het maar net Sy kop geskud en gewag tot ek wakker skrik. Ek is dankbaar dat die Here nie die goed – wat ek so bitter graag moes hê en waarvoor ek aanhoudend gevra het – vir my gegee het nie, want dit sou my ruïneer. Ek was vas oortuig dat my geluk in materiële dinge lê. Die stryd vir my hart was eg, my begeerte na God én na aardse skatte was so inmekaar verweef dat ek dit nie kon sien nie.

Ek het myself oortuig dat dit is wat ek werklik nodig gehad het. Ek het hebsug gemotiveer met Bybelverse en myself oortuig dat die eer na die Here toe sal gaan as ek sou kry wat ek begeer het. My gedagtes en begeertes was deurmekaar en aanmekaar. Die onkruid en die blomme was so na aan mekaar gegroei en vasgeweef dat die enigste manier om dit los te kry, sou wees om alles met wortel en al uit die grond te ruk en oor te plant.

Die goud en ander materiale was so saamgepers dat die enigste manier om die goud en die skuim te skei, sou wees om dit deur die vuuroond te sit. Min het ek geweet wat ses jaar later sou gebeur. Die oond is aangesit om solank die raffineerder se vuur warm te maak. Die deurmekaar seun gaan deur die vuur gelouter word om die goud en die skuim te skei. Die vuur om Mammon weg te brand.

Ek kan die Here dank vir die vuur – toetse en moeilike tye – in my lewe, dat Hy die moeite doen om al die wêreld se vuil uit my te brand. Ek kan die Here dank dat Hy my nie oorlaat aan myself nie. ’n Ander naam vir dié vuur is die woestyn. Dit is waar God Sy seuns en dogters heen vat om hulle van Mammon te skei. Die woestyn is rof, maar tydelik.

Indien jy voel jy is in die vuur of jy gaan deur die woestyn, moenie moedeloos word nie. Die Here is dalk net besig om jou suiwer te maak vir jou roeping. Hy is heel moontlik besig met jou – soos met my – om die koring van die kaf te skei. Byt vas, binnekort sien jy die beloofde land. Die losskeur proses van Mammon is nie lekker óf maklik nie, maar dit is die moeite werd, en dit is bevrydend. Hier volg die gebed wat ek tydens my stryd gebid het:

My Gees soek U en my gedagtes dwaal gedurig op U, maar my vlees soek die wêreld en al sy plesiere. Die swart wolf in my weier om te sterf, sy begeerte om gevoed te word is te sterk. Ek kan nie meer so aangaan nie; my een voet in U koninkryk en my ander voet in die wêreld. Daagliks verniel ek myself aan windjaag en saans soek ek vertroosting by U. Ek het nie vrede nie, selfs al is ek in my huis, in my bed, vrees ek steeds.

Ek vrees alles Here, ek het nie rus nie. My geestelike lewe heers nie. Ek is nie stabiel nie. Ek het ’n begeerte om U waarlik te dien en vir U te leef, maar iets keer my Here. Die begeerte om my eie lewe te beheer en regeer, die trots in my hart, die soeke na aansien by mense, hebsug na materiële dinge, liefde vir geld, pogings om mense te beïndruk, ongesonde soeke na status, energievermorsing op nietighede, en die gejaag na wind is te waardevol vir my Here, dit alles keer my. Ek sukkel om my lewe neer te lê, want ek ag hierdie stof te belangrik. Die sigbare is te sterk. My visie vir die onsigbare, ewige, eintlik enigste waardevolle besitting is versteurd. Ek is verblind deur materialisme, trots, hoogmoed, ambisie, en onafhanklikheid. Ek het vir myself gelieg en gesê dis dryfkrag.

Kaal het ek hier ingekom en kaal gaan ek hieruit. Here, ek kan net eenvoudig nie so aanhou nie. Ek moet op U vertrou, ek moet my lewe neerlê. U sê wie sy lewe neerlê, hy sal juis die ware lewe ontvang. Die gevaar om nie my lewe neer te lê nie, is gevaarliker as die gevaar om dit wel neer te lê. Ek moet net eenvoudig vertrou op die onsigbare Losser. Daar is ’n beter weg. Ek kan neerlê en U sal my nie verlaat nie. U stuur mense op my pad wat al hierdeur was, wat die waarheid ken en wat my aanmoedig.

Gee my die krag om alles te los wat ek ken, om op te offer dit wat ek nie werklik nodig het nie, al beteken dit ek gaan al my besittings verloor. U is mos my Herder, ek sal mos niks kortkom nie? Vir te lank hang ek aan die wêreld se tou met die hoop dat ek eers ’n houvas op U tou kan kry voor ek die wêreld se tou los. My hand kan net eenvoudig nie die bekende en sigbare los nie. U sê: ‘Nee, jy kan nie aan beide vashou nie, kies een.’ U sê: ‘… My juk is sag en My las is lig.’2 U wil hê ek moet aflê en neerlê, U wil hê ek moet U juk dra, waarlik Here, U las is werklik draaglik en baie ligter as die wêreld s’n. Skenk my die krag om neer te lê Here. Amen.

Nou gaan ek met jou deel hoe verdwaal ek was, asook die frustrerende gevoel van om onder Mammon se juk te wees. Ek het dinge nagejaag wat ek nie moes nie, ek het dinge begeer wat ek nie gekry het nie, ek het myself teenoor ander gemeet, ek het in skuld geleef, ek het eers ander dinge gesoek en God se koninkryk tweede geplaas. Alhoewel ek nou vry is van Mammon se juk, vat ek jou terug toe die stryd binne my gewoed het, en hoe ek gesukkel het omdat ek buite God se raamwerk – Sy koninkryk – gefunksioneer het. Terwyl jy hier lees, doen introspeksie. As jy gedurig so voel, is dit ’n goeie indikasie dat jy heel moontlik die verkeerde juk dra:

Ek is moeg, nie net fisies nie, my gees, my siel, my liggaam, my emosies, my oë, selfs die hand wat hier skryf is moeg. Ek jaag die wind so in die dag dat ek het nie eers die krag in die aand het om die broodnodigste te doen nie – tyd saam met God deurbring. Die gejaag hou my so besig ek het nie die krag om Bybel te lees nie, en as ek bid raak ek aan die slaap. Permanent moeg, deurmekaar, uitgeput, ongelukkig en uitgestres. Moeg om te baklei om kop bo water te hou. My emosies rand my aan.

Daar is te veel dinge om te doen en te min tyd, ek kom nie by alles uit nie. Soveel om te doen dat ek nie weet waar om te vat en waar om te los nie. Die pas van die lewe raak te vinnig, moet selfs my kos in die loop begin eet, kou nou en sluk later. Vereistes en druk van alle kante, emosioneel oorbelaai. Ek is soos ’n styfgespanne rekkie, wanneer gaan ek snap? Ek’s nie gelukkig nie, ek voel kwesbaar, ongemaklik, en ongesond. My hart is seer en swaar.

Onder al die nuttelose pogings, valse gesigte en afbetaalde sukses lê ’n vakuum sonder vreugde en vrede. Ek kan daai gat probeer vul met wat ookal ek in die hande kry, of met watter item ek ook al gefinansier kan kry, maar dis soos Martin en Kluck skryf; ‘vreugde weier om in dieselfde vertrek te wees as enigiets wat dreig om dit te vernietig.’3 Ongeloof wil my beroof, ek is onseker oor die toekoms. Ek is bang. God ken ek nie, maar vrees ken ek wel.

Ek wil saam met die Here wandel, maar ek wandel met vrees. Ek is gedryf deur vrees en angs, hulle neem my besluite. Nie net neem vrees en angs besluite namens my nie, maar hulle verlam my denke.4 Al probeer ek hoe hard, ek kry nie helder gedink nie, en dit laat my nog meer magteloos voel. Ek het geen vrede nie, vrees en angs oorweldig my, dit neem my totale gedagtegang in beslag. Soms voel dit asof die aarde my wil insluk, asof die lug dikker raak, te dik om asem te haal. Asemhaling raak moeiliker, vrees en angs bedreig my suurstof. Ek voel druk van alle kante af, en ek is bekommerd oor alles.

Dit voel asof Van Heyningen my beskryf wanneer hy sê dat die ‘vernietigende mag van stres, spanning en kommer die grootste moordenaar van jou droom is.’ Hy is reg as hy sê, ‘dit vernietig alles wat mooi, edel en goed is.’5 Dit bring die slegte in my na vore.

Martin en Kluck se woorde is my realiteit: ‘Music didn’t sound good, food didn’t taste good, the world seemed dark and bleak. Life seemed a series of disappointments, peppered with occasional rays of hope.’6 Ek sien die grys en donker in alles rondom my. My omstandighede lyk swart en my toekoms lyk woes en somber.

Wêreldse ‘sukses’ beteken net meer eters. Die stryd raak net duurder en die risiko net groter. Die spanning, vernedering, frustrasie en pyn raak alledaags. ‘Sukses’ leer my hierdie is aanvaarbaar. ‘Sukses’ leer my hoe om daarmee saam te leef.

Die wêreld se sirkel van sukses sluit in; spanning, ongesonde dieet, emosionele dreinering, min slaap, uitstel, onproduktief, meer agter met alles, meer druk, nog meer spanning en minder slaap wat uitloop op ’n ongebalanseerde liggaamsklok, en al waarvoor dié ‘sukses’ goed is, is om hierdie ongesonde siklus aan die gang te hou. Ek weet nie meer nie. Is daar hoop?

Is daar ’n toekoms? Is die dood nie beter as dié gejaag na wind nie? Een ding erger as armoede is die afwesigheid van hoop. Ek voel hulpeloos. Al het ek geld in die bank, laat dit my allesbehalwe beter voel. My drome verduister in die wind. Lyk my teleurstelling is my vriend, ek moet hom verwelkom en gemaklik raak met hom.

Ek begin al hoe meer dink geld het mens vervang. Asof chaos toeneem, liefde verkoel en sensitiwiteit oorneem. Hierdie een soek dit, daardie een dat, alles trek my uitmekaar. Hoe meer ek het, hoe meer moet ek myself verdeel. Ek voel soos ’n stuk vleis wat deur honger wolwe verskeur word.

Wanneer gaan hierdie gejaag ophou? Hierdie lewe voel soos een groot gejaag na wind, en hierdie gejaag maak my ouer. Ek verouder letterlik voor my tyd. Soos ’n hoender wat rondhardloop sonder ’n kop, so hardloop ek rond en jaag dinge vir die volgende paar rand wat ek kan maak, en ek noem dit ambisieus.

Werk hard om geld te kry om kos te koop om energie te kry om weer hard te gaan werk. Dag in en dag uit. Agteroor buig om alles te kan betaal, doen besigheid om goed op te gaar, om ‘suksesvol’ te lyk in die wêreld se oë. Dit alles doen ek wetend dat ek naak grond toe gaan eendag. Al hierdie opgegaarde wind is verganklik, dit kan enige oomblik verdwyn. Met al die besittings voel dit asof ek niks bereik het nie, en nêrens heen oppad is nie.

Ek soek vrede, geluk, gesondheid, ’n gelukkige gesin, familie, vriende, voorspoed, welstand, sukses (God s’n) en betekenis. Ek jaag agter elke vooropgestelde begrip hiervan aan, min wetend alles wat ek ooit kan wil hê, is in God opgesluit. Alles wat ek begeer, is in Hom. Soek eers Sy koninkryk en Sy geregtigheid, Wilco, dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer. Ek ken dié skrifgedeelte, maar ek interpreteer hom verkeerd. Ek hoor, maar ek pas nie toe nie.

Ek jaag rond agter al my begeertes aan, en ek mis die belangrikste van alles. Alles wat ek tot dusver gedoen het en wat ek bymekaar gemaak het, is verganklik, dit is stof. Dit gaan eendag of gesteel word, of roes, of verniel, of weggegooi word. Dit is niks, dit beteken niks. Beïndruk mense kom eerste, vertroue op God tweede. Probeer alles eers self, vra die Here later.

Jaag wind jou hele lewe deur, en eers as jy moeg en uitgeput aan die einde van jou lewe kom besef dat die Here ’n plan vir jou gehad het. Dink jy behoort aan jouself, maak nie saak dat die Skrif sê jy is met ’n duur prys gekoop nie.7 Ek het die aardse, vleeslike – amper demoniese – leuen gerasionaliseer.

Dié leuen steel nie net my vrede nie, maar hou my gedagtes in ’n konstante toestand van wanorde.8 Dit voel soos ’n strik, ek’s vasgevang en sien nie uitkomkans nie. Soos Alcorn skryf, selfs die ‘dinge wat ek in klein hoeveelhede waardeer het, het hulle waarde verloor in die groot hoeveelhede.’9Byvoorbeeld uiteet, dit was altyd lekker, dis nou ’n platoniese algemene gebruik – te veel van ’n goeie ding is nie so goed nie. Die wêreldse weelde demp nie net gawes nie, maar ook die genade.

My identiteit en waarde word in die gebroke wêreld gevind, en ek beskerm dit met elke greintjie van krag. Ek klou vas aan dié siekte met ’n stewige greep. Ek is so hardnekkig wanneer dit kom by my denkbeeldige onafhanklikheid, en ook so seker van my eie oordele dat ek verlore is in my persepsie van die werklikheid.10

Dit voel asof ek in ’n titelgeveg is met die wêreldkampioen – die sisteem – as my opponent, en ek is besig om hierdie laaste rondte te verloor. Ek het God verloor terwyl ek so besig was met die Christelike leefwyse. Godsdienstige laste (pligte) weerhou my van ware lewe. Ek kyk om my en ek is alleen, geen Herder. Ek was so besig met die dinge van die wêreld ek het my Herder verlaat.

My omstandighede laat my dink aan die woorde van A.W. Tozer: ‘We Christians are in real danger of losing God amid the wonders of His Word. The simplicity which is in Christ is rarely found among us. In its stead are programs, methods, organizations and a world of nervous activities which occupy time and attention but can never satisfy the longing of the heart. The shallowness of our inner experience, the hollowness of our worship and that imitation of the world which marks our promotional methods and testify that we, in this day, know God only imperfectly, and the peace of God scarcely at all..’11

Gierigheid word vermom as ambisie. Dis asof Martin en Kluck oor my skryf: ‘I had overemphasized becoming a provider for my family. I didn’t just want to provide. I wanted to be idolized by my family and by others.’12 Die gaping tussen wat ek nou het en wat ek graag wil hê put my uit, die frustrasie eet my op.

Tevrede met niks, heeldag opsoek na iets om hierdie hongerte binne my te stil. Kyk konstant in goed vas wat ek soek en dink by myself, as ek dít kry, gaan dit my gelukkig maak? Gierigheid is afgodery – ek is besig om my hongerte te verafgod. My begeertes lei na sondes, en die sonde verteer my. My sonde veroorsaak fisiese, emosionele en verstandelike pyn. My haastigheid en begeertes het my van God af weggesleep. Kry mens iets soos ’n ongelowige gelowige? Want ek het soos Martin en Kluck beskryf, ’n ‘funksionele ongelowige’ geword.13

Sny die kettings, Here, bevry my van dié kringloop sodat ek U werk kan doen. Ek vrees oor die toekoms en sukkel om te leef sonder bekommernis. Leer my om op U te vertrou, leer my volkome afhanklikheid van U. Ek het soveel drome en begeertes, maar ek wil dit neerlê, ek wil alles aan U oorgee. U het ook drome vir my, soms wens ek my eie drome en dit wat U oor my droom, kan dieselfde wees. Hierdie ontevredenheid en onvergenoegdheid is ’n teken dat ek nog nie my volle lewe aan U oorgegee het nie. Ek hou steeds beheer oor sekere aspekte. Ek moet nog ten volle sterf. Mag daar ’n einde kom aan hierdie gejaag na wind. Mag die berg voor my verdwyn – hy is onsigbaar, maar tog so werklik dat ek kan hom voel. Help my asseblief Here. Amen.

 

Eindnotas

1.) Billy Graham quote, from: https://achristianpilgrim.wordpress.com/2016/07/11/salvation-is-free-but-discipleship-costs-everything-we-have-billy-graham.

2.) Matteus 11:30

3.) Kluck, T. & Martin, R., 2013, Finding God in the dark: faith, disappointment, and the struggle to believe. Grand Rapids, Michigan: Bethany House Publishers.

4.) Van Heyningen, F., 2000, Hoe Om Suksesvol Te Lewe: Leidrade Vir Die Lewe. Wellington: Lux Verbi.BM.

5.) Ibid.

6.) Kluck, T. & Martin, R., 2013, Finding God in the dark: faith, disappointment, and the struggle to believe. Grand Rapids, Michigan: Bethany House Publishers.

7.) Sien 1 Korintiërs 7:23

8.) Kluck, T. & Martin, R., 2013, Finding God in the dark: faith, disappointment, and the struggle to believe. Grand Rapids, Michigan: Bethany House Publishers.

9.) Alcorn, R.C., 2011, Managing God’s Money: A Biblical Guide. Carol Stream, Illinois: Tyndale House Publishers.

10.) Kluck, T. & Martin, R., 2013, Finding God in the dark: faith, disappointment, and the struggle to believe. Grand Rapids, Michigan: Bethany House Publishers.

11.) Tozer, A.W., 2006. The Pursuit of God, 2nd edn., Hannibal, Missouri: WingSpread Publishers.

12.) Kluck, T. & Martin, R., 2013, Finding God in the dark: faith, disappointment, and the struggle to believe. Grand Rapids, Michigan: Bethany House Publishers.

13.) Ibid.

Share this post